Die Voorsitter
Lede van Klub Tafelberg
Gaste
Dit is vir my 'n besonderse voorreg om namens Adv. Lennit Max, die Wes-Kaapse Minister van Gemeenskapsveiligheid, hierdie boodskap te bring.
Die minister is gevra om oor Misdaad- en dwelmprobleem in die Wes-Kaap asook oor die maatreëls om misdaad te bekamp.
Hierdie is dalk 'n somber tema en veral om dit op 'n jaareind-funksie te bespreek, maar ek is oortuig dat dit een van die vele onderwerpe waaroor u en u gesin, behalwe die rugby, die afgelope jaar die meeste aan die Sondag etenstafel bespreek het.
Ek wil vir u daardie donker kant van misdaad kortliks skets, maar daarna wil ek eerder fokus op die meer positiewe sy van misdaadbekamping. Ek hoop om daarmee vir u te wys dat daar tog 'n lig aan die einde van 'n soms baie donker tonnel skyn.
Indien ons net na die Wes-Kaap se misdaadstatistieke kyk, skets dit 'n baie somber prent. Baie van u se verwysingsraamwerke strek jare terug en met u intelligensiedienste-agtergrond in ag genome kan ook u met outoriteit 'n betroubare prentjie van die bedreiging van misdaad vir ons land gee.
Om te begin wil ek enkele misdaad-statistieke aan u voorlê:
Die Wes-Kaap se moordsyfer (gemidddeld 2 200 per jaar) is die vierde hoogste in die land.
Uit 'n nasionale totaal van 117 172 dwelmverwante sake, het die Wes-Kaap die hoogste syfer, 52 781.
Die grootste persentasie van dwelmverwante oortreders en kriminele in die Wes-Kaap is mans.
Honderde van ons seuns onder 18 is verhoorafwagtend in Pollsmoor-gevangenis
Daarby, word klagtes dat misdaadstatistieke by verskeie polisiestasies in die Wes-Kaap gemanipuleer is, nog deur die Onafhanklike Klagte-direktoraat ondersoek.
U sal saamstem met my dat hierdie beslis kommewekkende statistieke is. Ons is tans binne in die periode van die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders waar ons as land daarop gewys word dat veral mans ons vroue en kinders toenemend bedreig.
Die Departement Gemeenskapsveiligheid sit beslis nie terug wanneer dit by die bekamping van misdaad kom nie.
Ek noem vir u enkele strategiee wat vanjaar uitgevoer is en hoe bronne aangewend word om misdaad effektief te verminder:
Die Wes-Kaapse Polisie se veiligheidsplan vir 24 hoërisiko-areas in die Wes-Kaap dien tans voor die Wes-Kaapse kabinet en is opgestel in samewerking van die Wetenskaplike Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR).
In Augustus en September het die minister op 'n feitesending, gemeenskapspolisieringsfrorums in verskillende streke in die Wes-Kaap besoek.
Gebiede waar bendegevegte inwoners geterroriseer het, is besoek en was polisie-operasies, soos Operasie Choke, in die hierdie gebiede was baie suksesvol.
Op 1 Desember het ons met die Suid-Afrikaanse Raad vir Winkelsentrums vergader na hul veiligheidsplanne vir die feestyd te kyk.
Wetstoepassing op nasionale en provinsiale paaie is opgeskerp om die hoë padsterftesyfer aan te spreek met 'n Geintegreerde Verkeersprogramme waaraan Provinsiale en Metro Verkeer en polisie, sowel as die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) by padblokkades en voertuigstoppunte regoor die provinsie optree.
Op 27 November is die polisie se indrukwekkende bevelsentrum van R37 miljoen in Kaapstad geopen. Die nuutste inligtingstegnologie word benut om teenmisdaadoperasies vinnig en effektief uit te voer.
My mandaat as minister is om die verhouding tussen die polisie en die gemeenskap te versterk en ook toe te sien dat die polisie hul werk effektief verrig.
Ek is vol vertroue dat die vertroue oor die volgende:
Dat die verhouding tussen die polisie en die gemeenskap oor tyd so gegroei het dat meer mense na vore kom om betrokke te raak in gemeenskapspolisiëringsforums sowel as buurtwagte.
Dat meer mense na vore kom om polisievergrype asook geweld teen vroue en mishandeling van kinders aan te meld.
Dat die gemeenskapspolisieringsforums strategies besig is om misdaad gesamentlik in die dorpe aan te spreek.
Dat meer gedoen word om slagoffers in gemeenskappe weer produktiewe landsburgers te help maak.
Dat misdaadsindikate en bendelede al hoe meer besef dat die net rondom hul wandade al hoe stywer en nouer trek.
Die grootste oorlog, uitdaging vir die Wes-Kaap en Suid-Afrika is myns insiens om die morele en etiese landskap te herstel.Iemand het per geleentheid die volgende gesê: "Die pad na sukses is altyd onder konstruksie."
Ek stem hiermee saam, want u en ek WERK aan hierdie pad.
Oudpresident Nelson Mandela het ook in 1994, tydens sy eerste toespraak as die president van die land burgers daarop gewys dat Suid-Afrika 'n HOP (heropbou en ontwikkelingsprogram) van die siel benodig.
Ons as Kapenaars en Suid-Afrikaners moet aanhou om aan daardie vesels van die gemeenskaplike siel te werk. Ons kan ook nie meer die verlede of 'n onregverdige politieke bestel, die skuld / blaam gee dat misdaad ons grootste bedreiging is nie. Aktiviste is beslis reg as hulle skree: die verandering begin by jou (ons).
Groter klem sal ook gelê moet word op misdaadvoorkoming. Dit wil sê, om die beoogde misdaad of die situasie wat 'n misdaad kan skep te voorkom.Dis moeilik om mense se begeertes en bedoelinge te polisieer. Dis eers as hulle verkeerd en teen die wet optree dat die polisie kan reageer.
Die polisie tree grotendeels reaksioner op en pas die land se wette toe op vermeende oortreders. Dit is misdaadbestryding.
Ons, as die regering, die polisie en die gemeenskap moet dus daardie geleenthede waarop potensiele misdadigers kan gebruik vir hul donker dade verander of elimineer.
Ten slotte:
My persoonlike wens is dat mense se bydrae , om misdaad daadwerklik aan te spreek, hier in hul hart sal begin, want, indien ons in ons hart die skeidslyn tussen goeie en kwade bedoelings kan sien , ons goeie besluite sal kan neem om, net goed te doen.
Mag elkeen van ons ons daarop toespits om ons medemens daardie geleenthede in die lewe te kan gee, waardeur daardie persoon 'n regte besluit kan neem, om 'n goeie daad te doen.
Hierin het die regering u as 'n burgerlike broodnodig.
Ek dank u.
